Die pad na die Allerheiligste deur Corrie Huyser
Die Tabernakel
Die tabernakel was die plek waar God se teenwoordigheid was. Die Tabernakel is waar God met die volk Israel ontmoet het, waar hulle offerandes gebring het en waar hulle God aanbid het.
In Eks.25:8 het God vir Moses gesê: Hulle moet vir My ’n heiligdom oprig dat Ek tussen hulle kan woon. “ Die woord tabernakel beteken ‘tydelike woonplek’. Die Tabernakel van die OT was 400 jaar in gebruik, daarna kom die temple in Jerusalem.
Dit was ook ‘n skadubeeld van Jesus Christus en God se reddings plan deur Hom. Elke detail van die tabernakel dui ook op ‘n aspek van die persoon en werk van Jesus Christus. Johannes 1:14 Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. Kol.2:9 In Hom is die volle wese van God beliggaam, 10en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Heb 8:5-6 Hulle bedien egter slegs ‘n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom. Toe Moses die Goddelike opdrag gekry het om die verbondstent op te rig, het God gesê: “Sorg dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat Ek jou op die berg gewys het.” Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is. Maar die tabernakel is ook ‘n beeld van die gelowige in wie Christus deur die Heilige Gees woon. 1 Korintiërs 3:16 Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? Die liggaam is die buitehof, die siel is die Heiligdom en die gees is die Allerheiligste. Om tussen Sy volk te woon was altyd God se begeerte, sedert die tuin van Eden waar hy saam met die mens in die tuin gewandel het. Genesis 3:8-9 Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?
God het nie daar opgegee op Sy begeerte tot gemeenskap met die mens nie. Daar was individue met wie God gemeenskap gehad het…Abraham, Enoch, Moses ens. Die tabernakel was ‘n skaduwee van wat God vandag vir Sy kinders begeer. God het die mens gemaak na Sy beeld om ‘n verhouding te hê. God se teenwoordigheid was sigbaar deur die wolk en die vuur kolom. Die wolk het die eerste keer verskyn toe God die kinders van Israel uit Egipte uitgelei het. Toe die Egiptenare die Israeliete agtervolg het, het die wolk tussenin beweeg. By die Berg Sinai was dit die wolk wat die berg bedek het terwyl Moses op die berg was. Toe die tabernakel voltooi was en alles in plek was het die wolk dit bedek.
Eks.40:34-38 ’n Wolk het die tent van ontmoeting oordek, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul. Moses kon nie in die tent van ontmoeting inkom nie: die wolk was daarin, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul. Later het dit so gegaan: wanneer die wolk van die tabernakel af voor die Israeliete uit wegtrek, het hulle agter die wolk aan versit. As die wolk nie weggetrek het nie, het hulle daar gebly totdat dit wel weggetrek het. Die wolk van die Here was bedags ’n wolk oor die tabernakel en snags het dit ’n vuur daarbo-oor geword. So het die hele Israel dit ervaar elke keer as hulle versit. Die wolk, was verteenwoordigend van God se heerlike en teenwoordigheid, wat hulle ook gelei en beskerm het. Die wolk (God se teenwoordigheid) het hulle bewegings bepaal…hulle het beweeg as die wolk beweeg en gestop as dit stil staan.
God se absolute gesag is verteenwoordig deur die wolk en die Israeliete moes as volk gehoorsaam wees. Hulle kon nie elkeen maak soos hulle wil nie.
Net so is die wolk is ‘n simbool van die Heilige Gees in die Nuwe Testament deur wie God Hom manifesteer in die gelowige.
Johannes14:16-18 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie;
Johannes16:13-15 Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.
Paulus herinner ons ook daaraan in 1Korintieërs 6:19-20 Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.
God begeer steeds vandag om Sy heerlike teenwoordigheid te manifesteer soos in die tabernakel. Ons, die gelowiges, is vandag Sy ‘tabernakels’. Hy begeer dat die wêreld moet sien dat Hy in ons woon.
1Pet.2:9 Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendoms volk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.
Vir God is die Geesgevulde gelowige die manifestasie van Sy heerlike teenwoordigheid soos ons gelei word deur Sy Gees tot gehoorsaam aan God en Sy perfekte Woord.
Die baie spesifieke aanwysings van hoe die tabernakel gebou moes word en hoe die priesters moet optree, aangetrek wees ens. dui op God se absolute gesag en dat die mense net op God se voorwaardes en patroon na Hom toe kon kom en nie soos hulle wou nie.
Die bepaalde uitleg van die tabernakel is betekenisvol omdat dit die voorgeskrewe pad is om tot God te kom.
Daar was drie areas in die tabernakel, die buitehof, die Heiligdom en die Allerheiligste.
Die buitehof is verlig deur natuurlike lig, die Heiligdom deur die kandelaar en die Allerheiligste deur die bonatuurlike sigbare (shekinah) heerlikheid van God. Hierdie verskillende areas kan ook gesien word as die pad wat ons moet volg na die troon van God wanneer ons bid. Alle gebed is om tot God se troon te gaan. Gebed is ‘n ontsaglike voorreg. God nooi ons uit om enige tyd en so dikwels as wat ons wil na Sy troon te kom.
Sy doel en begeerte is dat ons ‘n aktiewe en verantwoordelike rol sal speel in belang van Sy troon en Koningkryk.
Aan die een kant moet ons onthou dat ons na die troon van die Almagtige heerser van die Hemels en aarde gaan en aan die ander kant moet ons onthou dat Hy ons Vader is en ons baie lief het en teleurgestel is as ons nie gereeld kom nie. Die skrywer van Hebreërs bemoedig ons om tot God se troon te kom: Heb.4:16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. Ons kom na die troon met openheid en erns. God weet wat ons behoeftes is en Hy verwag dat ons vryheid sal hê om dit voor Hom te bring. Ons kom na God se troon in geloof. Ons kom nie as n bedelaar nie maar as n lid van God se familie, as prins en priester, as vennoot van God se Seun. 1Pet.2:9 Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendoms volk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.
Ons kom na die troon van ons Vader met liefde en vreugde in afwagting (hoop met verwagting) wetende dat ons gebedstye ook vir Hom ‘n vreugde is. Rom 8:14-17 Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Ons kom met die wete dat ons koninkrykswerk het om te doen want ons deel in Christus se oorwinning en daarom deel ons ook in Sy regering. Efesiërs 2:6 Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee.
Die volledige vervulling van God Se plan met ons in gebed en deur ons gebed tot Sy verheerliking veronderstel egter verskillende stappe, soos oorgawe, afsondering of heiligmaking, vervulling met die Heilige Gees en ‘n oorwinnende lewe. Dit is waar ons die tabernakel handig vind as roete na God se teenwoordigheid, Sy troon. God wil graag alle hindernisse uit die weg ruim wat daar in ons kan wees wat Sy perfekte wil met ons lewens verhinder en ook verhinder dat ons werklik effektiewe voorbidders sal wees. Daarom wil hy ons deur die verskillende areas van die tabernakel neem en ons geleentheid gee om skoon te maak en nader aan Hom te kom.
Buite die tabernakel (buite die heining om die buitehof) is die koninkryk van die wêreld, waar Satan heers . Die heining van wit linne was so hoog dat niemand van buite af na binne kon sien nie.
1 Joh 5:19 Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is.
Rom 3:23 Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.
Al die prag wat binne in die Tabernakel is was verborge vir die wat nie by die ingang ingaan nie, so is dit ook vandag. Die Tabernakel as Ou-Testamentiese prototipe van die mens in verbondsverhouding met God, is ‘n pragtige verduideliking van ons Nuwe-Testamentiese “inbeweeg” in Christus.
As jy God se roepstem hoor, en jy reageer, stap jy die domein van God se koninkryk vrywilliglik binne;
Deur die hek of Ingang van die tabernakel:
Die ingang is die eerste tree na die teenwoordigheid van God. Daar is net een ingang, almal moet deur dieselfde hek ingaan, maar dis ‘n groot hek sodat almal wat wil kan ingaan.
Rom 10:11 Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.”
Jesus is die hek na die teenwoordigheid van God: Joh.10:9 Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word.
Hand.4:12 Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” Jesus is die enigste weg na ware gemeenskap met God die Vader.
As jy uit die lug uit na die tabernakel kyk sien jy dat die voorwerpe in die tabernakel in die vorm van die kruis is. Die hek is aan die voet van die kruis. Ons kan net ingaan as ons dit wat Christus aan die kruis gedoen het vir onsself toe-eien en dit deel van ons lewens maak.
Vra jouself af:
Het ek al Christus as my persoonlike Saligmaker aangeneem? Weet ek dat ek weer gebore is in die Gees?
John.3:5-6 Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Dit is net die weergebore gees van die mens wat waarlik kontak kan maak met God.
Aanvaar ek dat Christus vir MY die volle prys betaal het?…volledig en genoeg!!
Glo jy dat ons deur genade in geloof gered is en nie deur wat ons doen nie of wie ons ouers is nie?
Ef.2:8-10 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.(Amplified: recreated in Christ Jesus)
Die Buitehof
As jy deur die hek is het jy toegang tot die Buitehof.
Enigiemand wat Jesus aangeneem het as persoonlike Saligmaker kan in die buitehof ingaan, maar God wil nie hê ons moet daar vertoef nie.
Die gebede van die Buitehof is oppervlakkig, vanuit die natuurlike mens en kan nie die openbarings van God se hart beleef nie. Dit bly gefokus op persoonlike behoeftes eerder as op wie jy in Christus is. God wil ons laat inbeweeg in die bonatuurlike. Daar waar ons deur die Heilige Gees gelei word. Jesus het gesê; julle is in die wêreld maar nie van die wêreld nie.
Ons gebede moet dus ook nie van die wêreld wees nie maar deur die HG ingegee.
Rom 8:26-27 Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.
Joh.16:13-15 Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.
God begeer dat ons volwasse word en verby die aardse dinge beweeg. God se begeerte is dat ons in beweeg tot in die Allerheiligste waar Hy Homself en sy begeertes aan ons kan openbaar. Waar ons werklik gees tot Gees kontak maak met Hom.
Deur hierdie patroon van gebed wil God ons inlei na daar waar mense soos Elia was, in ware vennootskap met God. Elia kon aanspraak maak op die krag van God om te doen wat God wou hê.
Jak.5:16-17 Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. Elia was ’n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. 18Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer. Dis ook tot ons beskikking.
God het een doel met ons en dis dat ons in ‘n intieme verhouding met Hom sal kom sodat ons ware deelgenote met Hom kan wees.
Opb.1:6 Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk
gemaak, priesters vir God sy Vader
Kom ons begin weer in die buitehof, die fisiese natuurlike dimensie.
In die buitehof leer ons God ken deur menslike verstand en ons sintuie.
Die Brandofferaltaar:
Wanneer jy die Buitehof ingaan loop jy vas teen die brandofferaltaar, waar die offerdiere geslag en geoffer is aan God. Hierdie brandofferaltaar wys na die finale offer van Christus: Die woord Altaar beteken ‘slagplek’. Jesus is die finale offer, die Lam van God.
Heb 9:26. “Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen” Die altaar is van brons gemaak en jou oortuiging van sonde en verlorenheid sonder Christus weerkaats in die koperaltaar (koper dui altyd op oordeel. Dit dui ook op Christus se goddelike natuur, die enigste wat die oordeel van God oor sonde kon hanteer.), Jy sien jouself as verlore, vasgevang in sonde en dit laat jou hierdie offer van Christus aanneem.
Die vier kante van die bronsaltaar is blink sodat jy jouself daarin kan sien wanneer jy naby kom.
2Kor.5:21 Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. Dit is die beginpunt. Ons kan nooit met ‘n ompad by die kruis verby gaan nie.
Dit was ook die grootste meubelstuk in die tabernakel…ruim genoeg vir die sonde van die wêreld. Dis slegs wanneer ons die voordele van die gestorte bloed van Christus aanneem dat ons kan aanbeweeg.
Heb.9:12- Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Aanvaar die volle betekenis van die kruis en leef daarvolgens.
Dié vier kante verteenwoordig ook die 4 elemente van God se voorsiening in Christus.
1) Vergiffenis vir sondes wat ons gepleeg het.
Rom.3:25-26 Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe.
2) Die wegneem van sonde, die geestelike, bose, verslawende mag wat jou laat sonde doen. Die mag van die sonde. Christus is sonde gemaak met ons sonde sodat ons gereinig kan wees met Sy reinheid.
Heb.9:26 Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem Jesus het alles gedoen wat ooit nodig was.
3) Die ou korrupte natuur is gekruisig
Rom.6:6 Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie
4) Ons bring onsself as offer aan God. Jesus was die brandoffer op die altaar van God se wil. Rom.12:1-2 En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. By die bronsaltaar aanvaar ons wat Christus gedoen het en gee onsself as offer aan Hom uit dankbaarheid. Totdat ons nie onsself op die altaar geplaas het nie kan ons nie uitvind wat God se wil is nie.
Jy behoort nie meer aan jouself nie, jy is teen ‘n prys gekoop
1 Kor.6:19-20 Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20julle is gekoop, en die prys is betaal.
Jy kan nie verder vorder as jy nie by die 4 kante van die bronsaltaar was nie. God verwag van ons om daagliks onsself te offer as ‘n lewende offer. Om ons wil, begeertes, emosies, ambisies, neer te lê. Alles in ons wat nie ooreenstem met God se perfekte wil vir ons lewens nie, moet hier by die bronsaltaar afgelê word.
Offer = doodgaan. Nie rasionaliseer of redes vind nie. Wanneer ons deur hierdie proses is kan ons waarlik bid, want dan is daar niks wat die gebed verhinder nie.
Jes.59:1-2 Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie. Ons kan egter nie sonder Christus se hulp ons offer bring nie.
Vra jouself die volgende?
Verstaan jy die volle betekenis van wat Christus aan die kruis gedoen het?
Dank God vir Christus se offer wat jou vrygekoop het.
Vra die Heilige Gees om jou sondes uit te wys en bely dit.
Wees eerlik en erken wat moeilik is, vra die Here om jou te lei en vry te maak.
Kies om nie net te erken wat jou sonde is nie, maar om werklik daarvan weg te draai
Bring jou wil, begeertes, emosies, ambisies voor God en offer dit by die altaar.
Bely elke ding wat verhoed dat jy met eerlikheid kan se; Nie my wil nie maar U wil.
Die bronswaskom:
Eks.30:17-21 Die Here het vir Moses gesê: 18“Jy moet ’n bronswaskom met ’n bronsvoetstuk maak om in te was. Sit dit tussen die tent van ontmoeting en die altaar neer en gooi water daarin. 19Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was. 20Voordat hulle in die tent van ontmoeting ingaan, moet hulle hulle met die water was sodat hulle nie sterf nie.
Die priesters moes hulle was anders sterf hulle as hulle in God se teenwoordigheid ingaan.
Die hande en voete is die dele wat in kontak kom met onreinheid.
Joh 13:8-10 Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!” Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.” En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. Die waskom verteenwoordig God se Woord, en is die plek van afsondering (sanctification) en heiligmaking. Ons word gewas deur die Woord tot perfektheid. Ons het vergiffenis ontvang deur Christus se werk aan die kruis, maar ons moet ook gewas word deur Sy Woord tot heiligmaking.
Johannes 17:17 Vader, sonder hulle af in U waarheid, want U boodskap is die waarheid. Daaglikse reiniging kom NA bekering.
Ef.5:25-26 Christus (het) die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 26Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het,
Die was kom is tussen die altaar en die tabernakel. Heiligmaking is nodig voordat ons nader aan God se teenwoordigheid kan gaan.
Exo 30:20-21 Voordat hulle in die tent van ontmoeting ingaan, moet hulle hulle met die water was sodat hulle nie sterf nie. Voordat hulle na die altaar toe kom vir hulle diens om ‘n vuuroffer vir My, die Here, aan die brand te steek, moet hulle hulle hande en hulle voete was sodat hulle nie sterf nie. Dit is ‘n blywende voorskrif vir hulle en vir hulle nageslagte.” (Die wierook altar)
Daar is 3 aspekte verbonde aan die waskom. Dis van spieëls, van brons gemaak en daar was water in.
Eks.38:8 Besaleël het ’n bronswaskom met ’n bronsvoetstuk gemaak van bronsspieëls wat gekom het van die vroue wat by die deur van die tent van ontmoeting werk.
1)Die Woord van God is die spieël wat die toestand van die hart uitwys. Wanneer ons buk om ons te was by die bronswaskom sien ons onsself presies hoe ons in die gees lyk, ons spieël ons teen God se Woord en ook teen die lewende Woord, Jesus Christus.
Dis ook hier waar ons die volmaakte werk van God in Christus moet erken en aanvaar dat dit ook vir ons kan skoon was van alles uit die verlede. 1Kor.6:11 En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.
Vra Jesus om jou rein en heilig te maak en jou te verlos van die Bose en jou te help om ander mense te vergewe soos wat Hy jou vergewe het.
Hoe langer ons die Woord lees hoe meer word ons bewus van ons geestelike toestand, maar ons moet ook ‘n daders van die Woord word. Ons moet die Woord bewustelik toelaat om ons te reinig.
Jas 1:22-25 Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.
2) God se Woord is die regter.
Joh.12:48 Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel. Jesus het gesê hy laat alle oordeel oor aan die Woord.
1 Kor.11:31 As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. By die waskom kry ons die geleentheid om onsself te ondersoek.
3) Die Woord is die reinigingsmiddel. ‘n Gelowige wat nie die Woord bestudeer, daaraan onderwerp en gehoorsaam is en daarvolgens leef nie, kan nie gereed wees wanneer Jesus weer kom nie.
Kol.3:9-10 Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.
Ons is vrygekoop deur die bloed van Christus maar ons moet daarna gereinig en geheilig word deur die was met die Woord. As ons nie gewas word deur die water van die Woord nie kan ons nie geheilig word nie.
1Joh.5:6 Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. 7Daar is dus drie wat getuig die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen.
4) Die was met die Woord stroop ons van die vlees.
Rom.8:5&8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, …. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
Die spieëls van die vroue wat gebruik is vir die waskom is ook simbolies van ons trots en ydelheid wat aan God geoffer word.
Ons is steeds in die buitehof waar ons nog net vir onsself en ons behoeftes bid.
Besig is met ons tekortkominge en gebreke. Soms dink ons dat ons reeds in God se lig funksioneer maar eintlik is ons steeds in die natuurlike lig van die buitehof wat die vlees, die natuurlike mens verteenwoordig..
Vra jouself af:
Pas ek die Woord toe in my daaglikse lewe?
Glo ek dat dit God se begeerte is dat ek die karaktereienskappe van Christus in my lewe moet openbaar?
Glo ek dat God dit in my kan en wil bewerk?
Wat verstaan ek met heiligmaking?
Beide die vergiffenis by die altaar en die heiligmaking by die waskom is die werk van Christus.
Die Heiligdom:
Om in die Heiligdom in te gaan moet ons deur die eerste gordyn gaan. Ons aanvaar alles wat Christus deur Sy kruisiging vir ons gedoen het. Ons aanvaar dat ons deur die Woord gewas is en elke dag gewas word. Dit vereis ‘n stap in geloof, net soos wat die besluit om die eerste stap deur die ingang na die buitehof ook in geloof gedoen is. Baie Christene het nog nie hierdie tweede stap geneem nie. Dit voel so goed om gered te wees dat baie mense nooit dink aan iets meer nie, maar dan mis ons die wonder en heerlikheid van ‘n intieme verhouding met Jesus Christus. Die prag en heerlikheid van die binnekant van die tabernakel is eers sigbaar wanneer jy binne kom. Van buite af is net die velle sigbaar maar aan die binnekant is dit oortrek met goud.
Om as Christen te groei moet ons ingaan om gemeenskap met Christus te kan he. Ons kan nie die wêreld saamneem nie en ons kan nie die vreugde van ‘n lewe wat oorgegee is beleef voordat ons ingaan nie. Ons gaan die Heiligdom in met oormoedige harte as ‘n koninklike priesterdom, toe gewei aan God. 1Peterus 2:9 Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendoms volk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Openbaring 1:6 Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Wanneer ons in die heiligdom ingaan is ons gereed om as volwasse Christene te bid omdat ons dan nie meer twyfel aan ons eie verhouding en ons eie wandel met Christus nie. Wanneer ons die Heiligdom binnegaan is daar net plek vir een wil, God se wil.
Die eerste gordyn verteenwoordig Christus se opstanding en ons identifikasie daarmee deur met Christus te sterf en met Hom op te staan.
Kol.3:1 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
Rom.6:4-5. Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. 5Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.
Gal.2:20 ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.
Die Ou Testamentiese priesters moes spesiale klere aantrek om in die Tabernakel diens te doen. Die priesters het wit klere gedra, net die Hoëpriester het bo oor die wit kleed wat geregtigheid voorstel ook ander klere aangetrek..
Ons het nie spesiale priesters klere nodig nie, maar dis belangrik dat ons beklee sal wees met Christus, want Hy is ons geregtigheid.
Jes.61:10 Ek is baie bly in die Here, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel.
Die linne is simbolies van reinheid en geregtigheid. Ons geestelike klere gee ons toegang en gesag.
Rom.3:22 MAAR nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 22die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo,
Titus 3:5 5nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees
Christus is ons toegang tot die Heiligdom. Ons moet ons beklee met alles wat Christus is en sorg dra dat ons voortdurend met Hom beklee is want dit gee ons die gesag wat nodig is as intersessors.
Ons verklaar ons afhanklikheid van God en erken dat ons niks is en niks kan doen sonder Christus nie. Ons erken dat ons deur die genade van God in Christus se geregtigheid kan loop en met vrymoedigheid na Sy troon gaan. Wanneer ons met Christus beklee is, is ons ook beskerm teen die aanvalle van die vyand.
In die tyd van die Ou Testament kon net die priesters in die heiligdom ingaan. Wat sê dit vir ons? Die doel van die priesters was om voor God te kom namens die volk.
Heb 5:1-4 Elke hoëpriester is ‘n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. Hy kan meegevoel hê met die onwetende en dwalende, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes. Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron.
Aaron is nie gekies op grond van meriete nie, maar in opdrag van God. Alle gelowiges is nou priesters. Vandag, net soos met Aaron en sy seuns gaan dit nie oor of dit gemaklik is om God se opdrag uit te voer nie en of die besondere diens iets is wat ons graag wil doen nie. Ons doen dit in onderdanige gehoorsaamheid.
Ons gaan dus ook as priesters in die Heiligdom in.
1Pet.2:9 Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,
Opb.1:6 Aan Hom wat ons lief gehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
Sien ons onsself as priesters?
Intersessie is ‘n priesterlike funksie. Die priesters het ingetree vir die volk. Wanneer ons in die Heiligdom ingaan doen ons dit as priesters, dis ‘n Godgegewe funksie en opdrag. Ons amp as priesters is in Christus. Dit is net wanneer ons in Christus funksioneer dat ons met Sy hart kan intree vir mense en dinge. Dis Sy las vir die wat verlore gaan.
Die vyand sal alles probeer om te verhoed dat ons in die Heiligdom ingaan as intercessors waar ons deur die Heilige Gees gelei word.
Rom.8:26-27 Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.
In die buitehof het ons op ons natuurlike vermoëns staat gemaak om God te ken en Sy wil te probeer verstaan, maar in die Heiligdom is dit God se Gees wat ons lei en God aan ons openbaar. Onthou, ons is nou nie meer besig met ons eie tekortkominge en probleme nie, ons fokus nou vanuit God se perspektief op die dinge wat vir Hom belangrik is. Dis nodig dat ons weet wie ons in Christus is sodat ons die aanvalle van die duiwel kan teenstaan.
Luk.10:19 Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.
1Joh.4:4 Hy wat in julle is, is groter is as die duiwel, wat in die wêreld is.
Ons bid vanuit ons posisie in Christus.
Ef.2:6 uit genade is julle gered —en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,
Onthou, Jesus Christus ons Hoëpriester het ons vooruitgegaan.
Heb.4:14-16 Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
Die Heiligdom verteenwoordig ook die siel van die mens.
Die drie objekte in die Heiligdom is tipies van die ooreenstemmende funksies van die siel.
Die Toonbrode: Kom ooreen met die mens se wil. Brood is simbolies van krag en die mens se krag is in sy wil.
Heb.10:5-7 Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: “Dit is nie diereoffers en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het. Brandoffers en sonde offers het U nie behaag nie! Toe het Ek gesê: Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen.
Wanneer ons God se wil soek sal ons nie mislei word nie, maar sal insig en onderskeiding hê. Soos wat Christus ons voorbeeld is, kom dit deur jou sielskrag en eie planne aan God te oorhandig. Die letterlike vertaling van toonbrode is ‘brood van sy aangesig’ Dit moes die heel tyd voor God se aangesig wees in die Heiligdom. Ons wil moet die hele tyd voor God vertoon word. Dit is die wil wat ons moet dophou want dis in die wil waar alles in ons verhouding met God begin. Jesus het gesê; Joh.4:34 My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Ons moet Christus se voorbeeld volg wat gesê het; nie my wil nie maar U wil.
Dit is wanneer dit nie meer ons wil is wanneer ons bid nie, maar God se wil is dat ons kan vra wat ons wil en Christus sal dit vir ons gee.
Joh.4:13 En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.
1Joh.5:14 En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. 15En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.
Wanneer ons wil afgelê is dan bid ons in eenheid met God se wil. Weereens kan ons nie nader aan God kom behalwe deur dit wat Jesus vir ons gedoen het nie. Ons is gewoond om Sy gebroke liggaam te herdenk wanneer ons Nagmaal gebruik, maar dit moet ook in gebed steeds voor ons wees.
Die toonbrode verteenwoordig ook Christus die Lewende Woord van God.
Jesus het gesê; Joh.6:35 Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.
Ons kan elke dag vars brood van Christus kry. Daar is meer as 7000 beloftes in die Woord, dit is ons daaglikse brood. Die toonbrode was daar vir die priesters om te eet. Teken van ons gemeenskap met Christus.
Die Goue Kandelaar
Die enigste lig in die Heiligdom is die goue kandelaar (die Menorah). Jesus is die lig wat in die wêreld ingekom het sodat die mense kan sien.
Joh.8:12 “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee. “Die kandelaar het 7 arms met die middelste wat anders is as die aan die kante. Christus is die middelste staaf. Joh 15:5 Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. Mat 5:14-16 Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.
Die Goue kandelaar verteenwoordig ook die intellek van die mens. Die lamp word verlig deur die olyfolie, simbolies van die Heilige Gees. Dit simboliseer die mens se intellek word verlig deur die Krag vam God en moet dus onderwerp word aan die Heilige Gees.
2 Kor.10:5 Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.
God sal nie ophou en ons moet nie ophou totdat alles wat ons dink in lyn is met die Woord van God nie, dit is ‘n geestelike proses. Die denke word voortdurend vernuwe deur jou denke oor te gee aan die Heilige Gees.
Rom.12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Ons intellek moet gekruisig word, want die gekruisigde intellek argumenteer nie meer met God nie, dit sê nie ‘maar’ slegs Amen. Die verligting van die intellek hang af van die mate van oorgawe van die wil.
Dit is God se Gees wat in die gelowige se gees werk en so die siel en die liggaam beheer. Die oorsprong is by God maar dit hang af van die oorgawe van die wil aan God.
Fil.2:12-13 Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
Vra jouself af:
Is my wil oorgegee aan God?
Is my intellek nog op die troon?
Sê ek ‘maar’ of sê ek ‘amen’?
Watter dinge is moeilik om af te lê?
Voor die gordyn wat na die Allerheiligste lei is die Reukofferaltaar:
Die reukoffer altaar se doel is drievoudig: gebed, intersessie en aanbidding.
Die wierook is ‘n simbool van die gebede van God se kinders wat opstyg na God se troon as ‘n aangename geur. God se wil is ook dat Sy huis ‘n huis van gebed moet wees.
Jes. 56:7 Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed, hulle brandoffers, hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees, want my tempel sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke.
en Matt.21:13. “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit ’n rowersnes.” Die wierook wat as reukoffer gebring is was ‘n uiters gewyde aksie en is aan God alleen gewy. Eks.30:36-38 Die wierookoffer moet vir julle besonder gewyd wees. Wat die wierook betref wat jy voorberei, niemand van julle mag dit volgens dieselfde voorskrif vir homself voorberei nie. Dit moet gewyd wees vir julle, aan My, die Here, gewy. Enigiemand wat so ‘n mengsel voorberei om aan te ruik, moet van sy volk afgesny word.” Dawid verwys ook na gebede as wierook in Ps.141:2 Mag my gebed voor U wees soos ’n wierookoffer, die uitstrek van my hande soos ’n graanoffer in die aand. Ook in Openbaring 8:3-4 lees ons: ’n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ’n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. 4Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.
Die reukofferaltaar is die plek waar ons God in Gees en waarheid aanbid.
Die wierook altaar is ook tekenend van Christus ons intersessor voor God. Hy is ons
Hoëpriester wat ons almal se name voor God bring soos wat die Hoëpriester die name van die stamme van Israel voor God gebring het.
Rom.8:34 Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
Heb.7:25 Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.
Wanneer ons in Jesus se naam bid dan bid ons gebaseer op alles wat Hy gedoen het en nie op ons eie meriete nie. Teen die tyd, dat ons in die Heiligdom bid, behoort daar niks meer te wees wat ons herinner aan ons sonde nie, ons moet leef vanuit ons nuwe lewe in Christus. Die ou dinge het verby gegaan.
Die reukoffer altaar is die oorgang van die siel na die gees, van die Heiligdom na die Allerheiligste. Dit is hier wat ons God in Gees en waarheid leer aanbid.
Vra jouself af:
Het jy by die hek, Christus ingegaan?
Het jy jouself geoffer by die bronsaltaar?
Is jy gewas deur die Woord by die bronswaskom?
Het jy deur die buitehof as wedergebore kind van God beweeg?
Verstaan jy en aanvaar jy dat jy gewas is deur die Woord?
Het jy jou kleed van geregtigheid aan?
Glo jy dat God jou in Christus gesag gegee het oor die vyand?
Het jy jou wil oorgegee aan God?
Is jou intellek oorgegee aan God?
Verstaan jy wat Christus bedoel dat ons Hom in Gees en waarheid moet aanbid.
Die voorhangsel; Slegs een keer per jaar is die hoëpriester toegelaat om deur die voorhangsel in die Allerheiligste in te gaan met die bloed van die brandofferaltaar en wierook van die reukofferaltaar d.w.s. met die bloed van Christus die offerlam en die wierook van aanbidding.
Hierdie voorhangsel verteenwoordig ons identifisering met Christus se hemelvaart.
Ef.2:4-6 Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee. Ons geestelike posisie in Christus is saam met Hom in die hemel waar Hy op die troon sit. Die hoëpriester het met kole van die bronsaltaar in die allerheiligste ingegaan, dit simboliseer ons offers en met wierook van die reukofferaltaar, wat ons aanbidding verteenwoordig. Wanneer ons daar ingaan moet alles wat ons is, ons aanbidding, lofprysing, aan God alleen gegee word alleen vir Sy verheerliking. In die Allerheiligste kan daar niks tussen ons en God wees nie. Jesus het vir ons die pad oopgemaak deur die gordyn na die Allerheiligste. Ons kan ingaan omdat Hy vir ons versoening bewerk het. Mat 27:50-51 Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur.
Ons kan nou in God se teenwoordigheid ingaan sonder om te sterf omdat die Vader na ons kyk deur die bloed van Sy Seun. Dit is asof Hy Christus sien.
Heb.6:17-20 En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ’n eed gewaarborg. 18Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. 19Hierdie hoop besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewens anker, wat agter die voorhangsel vas is. 20Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.
Jy kan nou doeltreffend intree vir die mense wat nog buite is en ook vir die wat in die buitehof vasgevang is. Jy gaan ook in die Allerheiligste in wetende dat jy ‘n antwoord op jou gebed gaan kry. Jy weet dat jou gebed bevryding bring vir die wat in boeie is.
Die Allerheiligste verteenwoordig die mens se gees.
Tot hier het ons eers terwyl ons in die buitehof was in die natuurlike of fisiese dimensie gefunksioneer en daarna in die Heiligdom vanuit die siel dimensie gefunksioneer. Die drie aktiwiteite van die gees, aanbidding, gemeenskap en openbaring het slegs betekenis in verhouding met God self. Die mens se gees is dood behalwe wanneer dit verenig is met God, daarom het alle aktiwiteite van die gees slegs betekenis in verhouding tot God self.
In die Allerheiligste is ons verhouding met God Persoon tot persoon, gees tot Gees.
In die Allerheiligste is daar geen lig nie behalwe die sigbare, gemanifesteerde lig van God se heerlikheid. Die Shekinah heerlikheid van God. Heb.9:7-14 Maar in die agterste gedeelte het alleen die hoëpriester ingegaan, en dit net een keer in die jaar, en dan nie sonder bloed nie, om vir homself te offer en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het…..Maar Christus het gekom as Hoëpriester… Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.
Die Ou Testamentiese gelowiges kon nooit hier ingaan nie wat ‘n voorreg het ons!
Heb.10”19 Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.
Hier in die allerheiligste kom ons by ware aanbidding uit want dis net ons gees wat werklik in aanbidding tot God kan kom.
Aanbidding gaan oor God se heiligheid. Heiligheid is die eienskap van God wat die moeilikste is vir die mens se verstand om te begryp omdat daar niks op aarde is wat ons daarmee kan vergelyk nie. Dit is uniek aan God en die mense wat dit van Hom ontvang het. Daarom is dit vir ons baie moeilik om in ware aanbidding tot God te kom. Aanbidding is eerder ‘n gesindheid. Ons kan nie oorgaan in aanbidding voordat ons nie ‘n openbaring kry van die heiligheid van God nie. Heiligheid is nie ‘n stel reels nie, dis nie fokus op wat ek nie moet doen nie, dit fokus op die eienskappe van God.
God is lig 1Joh.1:5 God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. God is liefde. 1 Joh.4:8 Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.
Lig en liefde het ‘n teenstrydige uitwerking op ons. Lig maak ons bang en liefde trek ons nader. Dis ons stryd, ons wil nader maar ons huiwer vir die alles oorweldigende lig.
God is reg en geregtigheid Deut. 32:3-4 Ek wil die Naam van die Here roem. Prys ons God om sy grootheid! Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.
God is woede en toorn teenoor Sy teenstanders. Nahum 1:2 Die Here wreek Hom op sy teëstanders, sy toorn ontvlam teen sy vyande.
Ons moet ook hierdie deel van God verstaan anders het ons nie ‘n getroue beeld van God nie en dit kan baie gevaarlik wees.
God is vol barmhartigheid en goedertierenheid. (Goedertierenheid is standhoudende liefde. God hou sy verbond met ons, een van Sy sterkste eienskappe)
Ps.106:1 Prys die Here! Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
God is genade.
Heb.4:16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
Twee dinge wat ons nie kan verdien nie is genade en barmhartigheid. Ons het barmhartigheid nodig vir die verlede en genade vir die toekoms. Dit is net deur God se genade dat ons die mense kan word en ‘n lewe lei wat Hom behaag.
God is krag. Die hele Bybel is vol getuienisse van God se krag.
God se heiligheid is al die genoemde eienskappe saam
Jes.6:3 “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”
Opb.4:8-11 “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe. Hulle sit dan hulle krone voor die troon neer en sê: “Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.”
Aanbidding is ons reaksie op God se heiligheid daarom kan daar geen aanbidding wees as daar nie ‘n openbaring van God se heiligheid is nie. In die allerheiligste aanbid ons God suiwer vir wie Hy is en nie meer vir wat Hy vir ons kan doen nie. Die grootste vyand van aanbidding is selfgesentreerdheid. Solank as wat ons vasgevang is in ons self en ons probleme kan ons nie God aanbid nie. Die rede waarom ons Hom aanbid is Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg. Ons is Syne en Hy is ons God, en Hy versorg ons, dit is wanneer ons reageer in aanbidding.
Dis wanneer ons in aanbidding voor God kom en net op Hom gefokus, dat ons Sy stem hoor. Om te luister na God se stem is die waterskeiding.
Deut.28:1-2 “As jy goed luister na die Here jou God en jy gehoorsaam al sy gebooie wat ek jou vandag gee, en jy lewe daarvolgens, sal die Here jou God jou oor al die nasies van die aarde stel. “As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk. Vers 15:As jy nie luister na die Here jou God nie en jy gehoorsaam nie al sy gebooie en voorskrifte wat ek jou vandag gee, en jy lewe nie daarvolgens nie, sal al hierdie strawwe oor jou kom en jou tref: Jy kan nie God volg as jy nie Sy stem hoor nie.
Om te leer om God te aanbid is ook om te leer om in Sy rus in te gaan. Heb.4:9-10 Daar wag dus nog steeds ’n Sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. 11Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.
Hier is twee meubelstukke. Die verbondsark en die versoendeksel met die twee gerubs.
Die duidelikste skadubeeld van Christus in die Ou Testament. God se opdrag aan Moses was om die Verbondsark in die Allerheiligste te sit as die plek van ontmoeting. Eks.25:22: “Dáár sal Ek jou ontmoet. Ek sal met jou praat van die deksel af tussen die twee gerubs uit wat op die ark met die getuienis is. Al my bevele vir die Israeliete sal Ek jou van daar af gee.”
Binne in die ark was drie voorwerpe. Die kliptafels met die tien gebooie, Aaron se staf, die goue pot met manna.
Die plat klippe waarop die wet geskryf is verteenwoordig God se ewige, regverdige wet, die uitdrukking van God se geregtigheid.
Dit verteenwoordig Christus wat die wet van God op die tablette van ons hart geskryf het.
Ps.40:7-8 Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sonde offers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê. Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is. Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.” Nou is dit nie meer die mens wat God se wet moet na kom nie, want ons leef nie meer nie, maar Christus leef in ons, ons enigste pad na geregtigheid en enigste hoop op heerlikheid.
Heb.8:8-11 Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here: Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe.
Wanneer Christus in ons harte regeer dan is God se wette in ons hart deur Christus wat in ons is. Kol.1:27 Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.
Ek faal nie meer gedurig nie.
Die goue pot met manna:
Christus die brood van die lewe en ons voorsiening, in Hom is ons volkome.
Joh.6:48-50 &57 Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. In eenheid met Christus sal ons deur Hom lewe. Christus is die versteekte manna in ons hart. Ons word deur ons innerlike geestelike eenheid met Christus gevoed en ons lewe in Hom soos wat Hy in eenheid met die Vader lewe.
Aaron se staf:
Num.17:10 Toe Moses die volgende môre by die tent met die getuienis kom, was daar botsels aan die kierie van Aäron, wat daar was vir die stam Levi. Trouens, daar was nie net botsels aan nie, daar was ook bloeisels en dit het selfs ryp amandels gedra.
Die staf was die teken van gesag van elke stam. Deur sy opstanding uit die dood is Christus se Goddelikheid bevestig. So is die staf die goddelike openbaring en bevestiging van sy goddelikheid.
Die drie voorwerpe in die ark verteenwoordig ook drie geleenthede waar die Israeliete God ernstig teleurgestel het. Die pot met die manna is ‘n herinnering aan hulle ondankbaarheid toe God vir hulle manna gegee het. Aaron se staf wat bot herinner aan die keer wat die volk uit jaloesie teen Aaron gerebelleer het en God Moses opdrag gegee het om 12 stawwe te neem met die name van die stamme en toe het net Aaron se staf gebot. God het sy outoriteit aan Aaron bevestig daarmee, Die staf is ook verteenwoordigend van God se outoriteit. Die plat klippe waarop die wet geskryf is herinner aan die talle kere wat hulle God se wet verbreek het. Die drie voorwerpe herinner ons aan ons tekortkominge en sondes.
Wanneer God egter afkyk na hierdie voorwerpe sien Hy nie ons oortredinge nie, maar die volmaakte offer van Jesus verteenwoordig deur die versoendeksel.
Die Versoendeksel;
Sonder Christus is daar geen barmhartigheid nie en geen lewe nie.
Ons kan nou met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, want Christus sit op die versoendeksel, sy versoeningsdaad oordek die gebroke wet.
Heb.4:16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
Die geboë vlerke van die gerubs simboliseer aanbidding en hulle gesigte wat na mekaar gebuig is simboliseer gemeenskap. God het gesê waar die gesigte en die vlerke bymekaar kom daar sal Hy sy heerlikheid vertoon.
Eks.25:20-22 Hulle vlerke moet uitgesprei wees oor die deksel, sodat hulle dit bedek. Die gerubs se gesigte moet na mekaar toe wees, en hulle moet afkyk op die deksel. 21Jy moet die deksel bo-op die ark sit en daarbinne die getuienis wat Ek jou sal gee. 22“Dáár sal Ek jou ontmoet. Ek sal met jou praat van die deksel af tussen die twee gerubs uit wat op die ark met die getuienis is. Al my bevele vir die Israeliete sal Ek jou van daar af gee.”
Samevatting:
Christus wil sy troon met jou deel, maar daar is net een pad tot binne in die Allerheiligste. Dit is soos ‘n kaart wat duidelik uiteengesit is. Die eindproduk van die pad tot in die Allerheiligste is aanbidding, intieme gemeenskap en om deur God gevoed te word. Daar kry ons die openbaring wat God se wet en sy outoriteit op ons bewussyn afdruk. Dit is die eindpunt waarheen ons in aanbidding beweeg. Ons kom in aanbidding met die gesindheid van algehele onderwerping aan die regverdige wet van God wat nooit verander nie, volledige eerbied wanneer ons tot God nader.
Daar is iets in ons wat bang word hoe nader ons aan God kom. Die meeste van ons kom na God vir dinge, seëninge, genesing, krag, maar God wil hê dat ons na Hom moet kom net vir Hom. Ons sal nie by aanbidding uitkom as ons nie na God kom net vir homself nie.
Ons kom na God as God, ons aanbid en buig neer voor Hom, ons geniet Hom en word deur Hom gevoed en dan kom openbaring. Dit is hier waar ons openbarings van God gaan kry en waar ons ons opdragte van Hom sal kry en ook die krag om daarin te wandel. Wanneer jy Christus in die Allerheiligste ontmoet vervaag godsdienstige vereistes en verwagtinge want dan het jy die hoogste oproep in God se koninkryk ontvang- vennootskap met Hom in gebed. Die drie kamers van die tabernakel. Die buitehof is die plek van offerande, die heiligdom is die plek van lofprysing en die Allerheiligste is die plek van aanbidding. Die mens het ook drie kamers, die liggaam, siel en gees. Dis net in die Allerheiligste, waar ons alleen met God is wat ons waarlik met Hom kontak maak, Gees tot gees. Ons kan so besig raak met die dinge van die vlees en die siel dat ons te min by God uitkom in gees. Dis vanuit daardie ontmoeting wat al die ander dinge aanvaarbaar word vir God. Ons geestelike welsyn hang nie af van hoe lank ons al gered is nie of aan watter kerk ons behoort nie of hoe baie ons doen in die koninkryk nie, maar wel van die tyd wat ons met God alleen spandeer.