Die betekenis van Kersfees.
25 Desember, Kersfees. Hoe beleef jy hierdie dag? Tradisioneel word Kersfees gesien as die herdenking van Jesus se geboorte. Maar kom ons kyk weer na Kersfees vanuit ’n nuwe perspektief.
Vir verskillende mense beteken Kersfees verskillende dinge. Dikwels is dit ‘n dag waarop mense bymekaar kom, saam eet en geskenke uitdeel, fees vier op verskillende maniere en om verskillende redes. Dis ‘n dag waarna baie mense uitsien en waaraan party mense liewer nie wil dink nie omdat dit dié dag is wanneer hulle nood aan die dinge waarmee Kersfees verbind word, juis beklemtoon word.
Wat is die dinge waaraan mense eintlik ‘n behoefte het? Kameraadskap, liefde, aanvaarding, verhouding, die behoefte om te behoort, om deel te wees van iets wat betekenis gee aan die lewe. Ons soek hierdie dinge by mense, soms weet ons nie eers hoekom nie. Wat ons nie besef nie is dat ons dit soek omdat ons daarvoor gemaak is. Heel van die begin af is die behoefte aan betekenisvolle verhoudings in ons menswees ingebou. Dis deel van ons geestelike DNA. Ons kan nie anders as om dit te begeer nie.
Verhouding is deel van ons skeppings doel want ons is deel van ‘n groter doel. God se doel. Aan die begin van alle tye, in Genesis, die eerste boek van die Bybel lees ons; God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Kortom, God het die mens geskep om soos Hy te kan wees. Die oorspronklike woord wat vertaal word as ‘beeld’ van God beteken om so baie soos die oorspronklike te wees dat dit vir ‘n oomblik as die oorspronklike gesien kan word.
Hoekom wou God mense op die aarde hê wat soos Hy was? Om dieselfde rede as wat ons behoefte daaraan het om tussen mense te wees wat soos ons is? Terwille van verhouding. Kommunikasie. Liefde. Dit was dan ook hoe God se verhouding met die mense begin het. Hulle het in die tuin van Eden, die mens se woonplek, saam gewandel, gesels en in ‘n intieme verhouding met mekaar gewees. God kon sy hart en planne met die mens deel en die mens kon die wonder van ‘n volmaakte verhouding met sy Skepper geniet.
God was lief vir hierdie skepping van hom en hy het die mens met ‘n doel geskep. Die mens moes God op die aarde verteenwoordig, Hom bekend maak. Die mens as God se verteenwoordiger moes vir almal wys wie Hy is en hoe Hy is. As beeld van God moes die mens God se karakter en hart vir die wêreld wys. God het ‘n langtermyn plan met die mens, om die rebellie van die vyand te vernietig.
Daarom het Hy die mens geskep met die vermoë om self ‘n keuse uit te oefen. Soos met enige verhouding was wedersydse vertroue ook nodig in hierdie verhouding tussen God en die mens. Een dag het die mens deur sy verkeerde keuse en ongehoorsaamheid daardie vertroue geskend en die verhouding is verbreek. Die kommunikasie, die basis van enige verhouding, was versteur. God en die mens het van mekaar verwyder geraak. Omdat die mens nie meer in ‘n verhouding met God was nie het hy nie meer God se karakter geken of Sy taal verstaan nie. Omdat God en die mens nie meer dieselfde taal gepraat het nie het die mens al meer van God vervreem geraak.
Die mens kon God nie meer bereik nie, maar diep binne in het die mens steeds die begeerte gehad na die volmaakte verhouding waarvoor hy gemaak is. Die mens het deur die eeue probeer om kontak met God te maak deur wette na te kom en reëls te handhaaf, maar wette kan nie vergoed vir die verlies aan verhouding en intimiteit nie. As gevolg van sy sondige natuur, wat die mens van Adam geërf het, was die mens ook nie in staat om die wette behoorlik na te kom nie. Die verhouding kon dus nie van die mens se kant af herstel word nie.
Dit was nie net die mens wat die gemis aan God beleef het nie, God het ook verlang om weer in ‘n verhouding met die mens te kom. God se begeerte na die herstel van die verhouding was groter as die mens se begeerte, want dit was nie God wat weg beweeg het nie, maar die mens. God was nog altyd daar vir die mens. God het ook nooit Sy oorspronklike plan met die mens laat vaar nie, Hy het steeds ‘n verteenwoordiger op aarde gesoek. Iemand wat Hom kon sigbaar maak. Iemand met wie Hy sy planne kon deel en wat Sy planne op aarde kon uitvoer.
God het Iemand gestuur om vir die wêreld te kom wys wie hy werklik is. God het ‘n baie betroubare getuie gestuur. Ons lees in die Evangelie van Johannes hoofstuk een: Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.
Die Enigste Seun van God word ook die Woord genoem en ons lees ook in Johannes 1:
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Dan lees ons ‘n entjie verder hierdie baie betekenisvolle woorde: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Hy is genoem Immanuel, wat beteken ‘God met ons’ Hy was volledig God wat volledig mens geword het en tussen mense kom woon het. Hy het vir meer as dertig jaar hier op aarde kom woon met ‘n baie spesifieke doel. Ons ken Hom as Jesus die Christus, ons Verlosser. As ons Hom nie werklik ken nie dan sien ons die prentjie van die kindjie in die krip, of die een wat gekruisig is, maar dan mis so baie tussen-in.
S.D.Gordon beskryf God se plan met die koms van Jesus baie mooi in sy boek, Quiet Talks about Jesus. Hy skryf:
Jesus is God spelling Himself out in language that man can understand. God and man used to talk freely. But one day man went away from God. He left his native land Eden, where he lived with God. He emigrated from God. And through going away he lost his mother tongue. His ears grew dull and then deaf. Through lack of use he lost the power of speaking the old words. God had always been eager to get to talking with man again. He is hungry to be on intimate terms again with his old friend. Jesus is god spelling Himself out so man can understand. He is the A to Z of the Old Eden language of love.
Jesus was die verpersoonliking van God se liefde, Sy genade en Sy krag. Maar God het nie net vir Jesus, Sy Enigste Seun gestuur om Homself sigbaar te maak nie. God wou deur Sy Seun die mens weer met Homself versoen. Ons lees in Johannes 3: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Hoekom was dit nodig dat God Sy enigste Seun, self God, stuur om die wêreld te red?
Die sonde en ongehoorsaamheid van die eerste mense het die skeiding tussen ons en God veroorsaak en as gevolg van daardie oorgeerfde sonde is die skeiding steeds daar. Net die Seun van God, wat sonder sonde was, kon die prys vir versoening betaal. Ons lees in Romeine 5: Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. (Rom.5:17-19)
Deur in ons plek vir ons sonde te sterf het Jesus ons met God versoen. Hy het reg gemaak wat verkeerd gegaan het in die tuin van Eden. Jesus Christus het weer vrede tussen God en die mens gebring. Dikwels dink ons dat Jesus net gekom het sodat ons eendag kan hemel toe gaan. Ons dink aan die Ewige lewe as na die dood, maar wanneer ons na die groot prentjie van God se plan met die mens kyk, besef ons dat Jesus die prys vir ons sonde betaal het sodat ons weer soos Adam en Eva voor die sondeval in ‘n intieme liefdesverhouding met God ons Skepper kan wees terwyl ons nog hier op die aarde is. Jesus het die prys betaal vir ons sonde wat die vervreemding tussen ons en God veroorsaak het. Die Ewige lewe begin dus vir ons wanneer ons Jesus Christus as ons persoonlike Saligmaker aanneem.
Baie mense is geneig om te dink dat Jesus Christus gekom het om mense te veroordeel, maar kom ons lees weer Johannes 3. God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.
God is ‘n God van liefde, maar Hy is ook ‘n regverdige God. Hy moet getrou bly aan Homself, sonde is onaanvaarbaar in ‘n verhouding met God. Soos heel aan die begin bring sonde steeds skeiding en vervreemding tussen die mens en sy Skepper. Omdat sonde vir God onaanvaarbaar is moet Hy sonde straf, maar omdat God ‘n God van liefde is met die begeerte na ‘n intieme liefdes verhouding met Sy skepping, het Hy Sy Seun, wat nie deel was van die sonde van die mens nie, gestuur om die straf vir almal se sonde te betaal. Deur Christus het God die oplossing vir die vervreemde toestand van die mens verskaf en net dié mense wat nie God se oplossing aanvaar nie, bly veroordeel.
Wanneer ons hierdie versoenings geskenk van God aanvaar kan ons net God daarvoor dank, want daar is niks anders wat ons met God kan versoen nie. Ons lees dat Jesus gesê het: Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Daar is niks wat ons as mense kan toevoeg tot die verlossingsdaad van Christus nie. Ons lees in Romeine 5: God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.
Ons vier nie Jesus se geboorte nie met Kersfees nie, maar ons vier die geskenk wat God vir ons gestuur het soos vervat in Efesiërs 2:8 “Want uit genade is julle gered deur geloof en dit kom nie uit julleself nie – dis ’n GESKENK van God -
Wat ‘n wonderlike geskenk. En dit is waarlik ‘n geskenk, want ons kan dit nooit verdien nie. Ons is werklik deur die genade van God gered in die volste betekenis van die woord genade. Ons praat van die onverdiende genade van God. Ons kan hierdie geskenk van God net in geloof aanneem en uit dankbaarheid lewe in die vryheid wat Christus vir ons bewerkstellig het. As ons werklik die omvang van hierdie geskenk van God vir ons as mense verstaan, dan sal ons ook nie kan stilbly daaroor nie en sal ons dit met ander wil deel. Christus is ons geskenk wat ons in hierdie tyd aan ander moet uitdeel en Kersfees is ’n fees wat gebruik kan word om hierdie geskenk ook aan die wêreld bekend te maak.
Christus het dit vir ons moontlik gemaak om ons skeppingsdoel te verwesenlik. Wanneer ons Christus as ons Verlosser aanneem en daardeur versoening met God verkry, kan ons weer ervaar waarna die mensdom al die jare smag. nl die volmaakte verhouding. Volledige aanvaarding deur God Almagtig. Onvoorwaardelike liefde soos wat net God kan gee. Ons kan weer wees wat God ons voor geskep het. Deur ons skeppingsdoel te verwesenlik kan ons voluit lewe vir Christus en in Christus.
Kom ons bid saam.
Hemelse Vader, baie dankie vir Jesus. Baie dankie dat ons ook weet dat as U U enigste Seun nie gespaar het nie, maar Hom oorgelewer het om ons almal te red, sal U ons ook al die ander dinge, saam met Hom uit genade skenk. Dankie Vader vir die belofte in U Woord dat niks ons sal skei van U liefde nie en dat niks ons uit U hand sal ruk nie. Dankie Jesus Christus dat U vir ons die losprys betaal het en daardeur vir ons ‘n nuwe lewe geskenk het. Gee ons ook die genade om U te volg en te leef soos verloste kinders van God. Amen.